Albertinia
Foto: Jo Fourie-Symmons
Langs die grootpad na die Ooste – Albertinia deur Jo Fourie-Symmons
I
Waar die Slapende Skoonheid wink, lig jou hoed: Riversdal is háre!
Die teer sing, cuttings deur; nóú ruik
jy fynbos en riet, septemberbos, soet-frank. Die rooi
aalwyn, fakkel langs jou pad. Ons maak 'n linksomkeer.
By Dennegeur maak dié vrou 'n allegaartjie wat Full E
nglish laat bloos. (Sy stock straks nie meer Hubbly Bubbly
nie – dalk banana-split om nostalgie mee af te
sluk.) En pittekoffie. Vanaand sal die gasheer jou seer
sekerlik 'n snapsie aanpresenteer.
By die hotel (waar jy van die lang spyskaart af kan eet
en altyd tweedes vra), wag ek dan in die binnehof.
II
As jy stamboek soek, kan jy hier begin: Oosthuizen,
Van Zyl, Van Rensburg, De Jager, Cronje --
Plaasname word gekoppel: Piet Droërug, Hendrik
Middeldrif, Pieter Ouvloer, Niklaas Vlakte.
Gevlei & -fontein: Hartbees-, Ystervark-, Heuning- en
Omdraaisvlei; Botteliers-, Buffels-, Keur-, Vrekfontein.
Omkraal: Melkhout-, Vyeboom-, Potklei- en Haelkraal.
III
Dr. John Muir¹, Skotsman, trou met Susie Steyn van
Riversdal; bring haar hierheen in 1908. Hy skryf: ‘Langs
die grootpad na die Ooste’ (Tygerfontein). Só langs ontdek
hy ook 'n rare proteaspesie: Lucospermum Muirri.
Oudok maak 'n lys vir sy plantversamelboek, toe hy in sy geliefde
veld verdwaal en aan blootstelling sterf.
Seldsaam óók: 'n rusplek van jóú keuse.
IV
Teen die noordkim waar die berg geriffelstop lê, loop
Valsrivier. Koring plomp goudgeel, 'n Van Gogh-toneel.
Blouswart kraaie pik in swartoogsirkels; volstruis staan
rooi gestof. Dís waar sý was, Grannie Rose, maar die
stoep is stil. Langeberg kyk uit oor Onverwacht.
Oktober, die mooiste, mooiste maand!
'n Slim boer oes graag onder die onnies; Daan van Zyl²
pluk vir hom só 'n bruid. In Oktober 1966 word daar op
Tierfontien 'n haastige swartkopkind gebore – sy wil
ovaalbaan toe. (Wie kon raai dat sý eerste sou wees om
die Barcelona-silwer huis toe te bring?)
Oktober is 'n geil maand, inderdaad.
Piet en Minnie is innig gekys en sportmal. Hulle trek
kraaltjie agter Aasvoëlkop. Uit die nes kom sportmal
spruite, óók 'n gholfer om in Big Easy se spoor te loop.
Hy³ wen die 2010 Ope en bring die Claret-beker terug.
(Die wêreld sukkel met sy van, dié een waarmee ons
begin het. Hulle noem hom Shrek – en dit maak sin.)
V
As die son boog, gaan groet ons by die begraafplaas
agter die skool se rug. Hier sit jy op 'n klipstêppie en
trek opskietdistels uit (los die kappertjies); waar baie
blomme is, verdeel gerus. Húlle was vrygewig.
My hart trek na die stilles, mense wat by kerslig skryf.
Aalwyntap
Grou jou kuiltjie in die klipgrond
tussen die oumanne,
lê die bokvelletjie uit, stamp vas;
met die sekel klim jy in sy groenblaar in,
wikkel-wikkel tussen doringvlees,
s á á g --
Slag, pak op, slag, pak op,
lê jou armvrag eerbiedig neer.
Pak jou skywe in wawielspeke,
om en om, tot die laaste laag koepel staan.
As jy teen sonsak huiskry,
sal die bitter sap nog drup drup.
Bitterbek staan by wildeals en groenamara
op die kombuisrak, byderhand,
vyf blikke kook seep;
sy goue drade vleg 'n mosesmandjie
om die sweet van jou aanskyn te dra,
lewensessens
vir elke dag
en maer jare.
VI
Ons moet suid, see toe.
Vat my hand
Ek lei jou op die ghoenapad
(het jy al suurvytjiekonfyt geëet?)
agter Aasvoëlkop, kronkel ons met die Gourits
langs, dan zig-zag, Blombos oor.
Soos jou been teen die bossies skuur, styg die vlaag,
'n geur wat nie gebottel wil wees nie:
jakkalstol, suikerbos, sewejaartjies en tjienkerientjee;
heuningbos, met rooi kalkoentjies aan sy voet.
(Dié een is die breë boegoeblaar – ruik!)
Dis bosbokveld. En grysbokkies - kyk die spoor ...
Hoor jy die dikkopkiewiet? Hy maak nes in die
wildeteebos. Akkedis glip terug in sy skeur.
Dáár tussen die speldekussings steek sy kopuit:
die bluebell, in eie, ouwêreldse parfuum omhul.
Op die bult slaan die seebries jou. Dis stil. Stil.
Span uit onder die Melkhoutboom --
kyk, erica kleef aan jou soos 'n kamma-bruid.
VII
En ék vra jy? Soos Oudok Muir, is ek 'n winterskind.
Op 'n snerpende dag in Junie kraak die ryp in die Braak,
dan skree 'n witkoppie in tant Miems se pienk baba-
kamer. Sy hardloop nie, die kind, maar sy is een van die kykers
van die lewe: inkyker, uitkyker, waarnemer, weergewer.
Hulle het hul eie plek – by kerslig.
Plaasname – mnr. M.A. Muller!
¹Dr. J. Muir, geb.17 Junie 1874, Skotland, ly later aan amnesie.
‘Langs die grootpad na die Ooste’, Huisgenoot, 1927.
²Elana van Zyl, geb. 10 Oktober 1966 te Albertinia.
Big Easy - Ernie Els, geb. 17 Oktober 1969.
³Louis T. Oosthuizen, geb. 19 Oktober 1982. (Piet & Minnie in my matriekklas.)
‘Dis die maand Oktober’– C. Louis Leipoldt (1880-1947)