KOWIE-RIVIER, Oos-Kaap
Foto: Stefani Prinsloo, Kowie-rivier
Groen en Blou deur De Villiers-Serfontein
DIE OOS-KAAP
Ek kan nie regtig beskryf wat met my gebeur, as ek weke lank in die stad was, en dan na ‘n uur en ‘n half se vlug weer in die Oos-Kaap, op moederaarde is en met die Sonskynkus, padlangs ry nie!
Dit kriewel iewers in my asof ek wil stop, sommer afklim, en langs die groen heuwelpad huppel. As ek die passe deurkronkel, en die see aan my linkerkant blink-blou uitstrek. As die groen bos-heuwels knoetserig om die teerpad vou, en die Nabome se lang nekke hier en daar uitloer.
Langs die kronkelpad sien ek die Nguni’s se bont jasse tussen die grys miershoopbondels, en ‘n Hemelse vrede kom sit in my lyf. Die vars lug, wat vroegoggend nog woeste wind was, maak my kop sommer skoon, en as ek by een van die talle riviermondings verbyry, sien ek hoe ‘n witreier langbeen staan en vis. Teen die een oewerrant klou geel- en koningsuikerbosse behendig vas tussen die ander struike. Die rotsriwwe weerkaats in die blink water. Twee klein dobbertjies swem eenkant.
As ‘n blouapie vinnig oor die pad hardloop, en ‘n gekroonde neushoringvoël skrams oor ‘n boomtop vlieg, wat afgeëts teen die ysblou lug staan, dan neem ek ‘n diep asemteug. Dis lekkerkry verby!
Ons steek die Kowie-rivier oor, en ‘n swartrug meeu dryf rustig in die water. Soos ons verbyry skrik hy en vlieg vervaard op, om dadelik grasieus laag oor die water te skeer. Die rimpelings kring oewer se kant toe.
Ek sug kliphard en weet met ‘n sekerheid: my oë moét groen en blou sien!