BRANDBERG
Foto: Adéle Theron, Brandberg
uit die vergetelheid deur Adéle Theron
die Vrystaat is boom-arm
met spruite net hier en daar
om die hart te verwarm
maar langs die Sandrivier
is volop klip en struike te vind
uit die vlakte – eeue gelede -
vlug *Leghoya se mense
na die hoogtes om vrede
op Brandberg se plato te vind
sonder sement en polyfilla
bou hulle klipkrale
waar skaap en bok
onder volmaan en in donkernag
’n holte en ‘n rusplek vind
geen bome geen dakbalke
geen grasdak soos elders
uit kindbrein vorm igloe-hut
vrou en kind te beskermd
terwyl mans na gemsbok
en swartwildebeeste mik
om vleis vir die pot te vind
nuuskierig verwonderd oor
hul verdwyning – is hul uitgeroei?
hul bou-en leefstyl onbekend
uit ystergereedskap en klipbakke
sou studente antwoorde wou vind
maar wanneer stofwinde oor
die vrystaat woed
luister springbok se kind
na die roep van ’n volk
reeds eeue gelede
in fluistergedagtes verstrooi
*geen sekerheid hieroor nie
©adéle theron