PRENTJIEMOOI/PICTURE PERFECT
winter en somer dieselfde deur Lettie Murray
soos sandsteenklip uit die omgewing
was die voorgeslag aards
en op hul eie sabbatsreis -
in ‘n driehoek tussen albertinia
gouritsmond en stilbaai
nederig soos waaiende dekriet
in die son, reën en die wind
het hul daar tussen tolbos
skilpaaie en rooipitjiehout
vreugde gevind
op ‘n plaas, vir ‘n kind
is winter en somer dieselfde ding
en fassineer ‘n blik tót ‘n bees se bulk
waar vrae gevra word -
al word die kos of koffie koud
karakters storieverhale oopmaak
wat ná ‘n vakansie
nog in jou kindgeheue praat -
by die skool, en by jou maats
jou die hero
van jou éié storieverhaal maak
jou menswees, jou kindwees
pêrel vir pêrel string