Graaff-Reinet
Foto: Uysie Alberts
Graaff-Reinet 1950 deur Nini Bennett
Sy hardloop deur die strate, sluit die posbus oop:
Die koevert met sy handskrif is nie daar nie.
Sy weet al; sy rek haar oë
met die opkyk want dan bly die trane droog:
“Dit het nie gekom nie.”
Haar ma trap die sagte pedaal dieper, buig laer
oor die klavier: Dis nou lesgee tot agtuur saans.
Waarom is plekke van afskeid so koud? Sy onthou
die stasie; sy rug kwesbaar maar verbete
met die wegstap, sy jaspunte slaan hoeke,
die koue rek ruimte en klanke
duiwe vlieg klingelend op
dan vervaag sy gesig teen die treinruit in smeerspoed
en later die sweisgloed van tyd.
Sy hardloop deur die strate, eet ontsteld
deur stof en spinnerakke in haar oupa se wingerd
kristaldruiwe, doppertjies, pere soos goue klokke, adamsvye
maar alles doof geleidelik uit,
die stoomtrein se dowwe galop,
die posbus skemer en ongesê,
sy buitelyne rokerig en amorf
tot eindelik net die heimweë in sagte pedaal
dimunuendo bly: “Pappa, stuur die onderhoud.
Asseblief, Pappa, onthou.”