SATARA
Satara deur Nini Bennett
Tyd het gaan staan op die foto.
Eens was hy ook seun, kaalvoet van Marquard,
nou skilfer die foto découpage.
Bedags sit hy, bejaarde rekenmeester
en kyk na die drinkplek op Satara.
Gedagtes reis geruisloos soos pluissaad
want warm is die bêrehitte van onthou,
daar was memento’s en memoires,
Duke, die ou olifantbul, so oud,
sy tande het gesleep op die grond
en hy huil oor die uitgespaarde vreugde
van herroep in die nou: Dalk is hy ook Duke
en probeer ‘n lewe balanseer:
Die webkamera se oog, die blou lens van die lug,
die grond se wortelhare, hoe water-are
smag na dieper grond,
die bêrehitte van son in grond,
die berghitte van onthou:
Ook die vuur, die vlammende hemelkolke
die oneindige skemer in
maar vir die water, die drinkplek by Satara
lewe hy nou
want herinnering is siklies en intiem
soos die binnereis van bloed
dan balanseer hy, bejaarde rekenmeester
grond, lug, vuur en water
en wat hy nie verstaan nie
pos hy na die Groot Boek
waar sy naam opgeteken staan
saam met die Lam
as hulle eendag saam met die wilde diere
van Satara na die drinkplek gaan.
Tyd het gaan staan op die foto.
Eens was hy ook seun, kaalvoet van Marquard,
nou skilfer die foto découpage.
Bedags sit hy, bejaarde rekenmeester
en kyk na die drinkplek op Satara.
Gedagtes reis geruisloos soos pluissaad
want warm is die bêrehitte van onthou,
daar was memento’s en memoires,
Duke, die ou olifantbul, so oud,
sy tande het gesleep op die grond
en hy huil oor die uitgespaarde vreugde
van herroep in die nou: Dalk is hy ook Duke
en probeer ‘n lewe balanseer:
Die webkamera se oog, die blou lens van die lug,
die grond se wortelhare, hoe water-are
smag na dieper grond,
die bêrehitte van son in grond,
die berghitte van onthou:
Ook die vuur, die vlammende hemelkolke
die oneindige skemer in
maar vir die water, die drinkplek by Satara
lewe hy nou
want herinnering is siklies en intiem
soos die binnereis van bloed
dan balanseer hy, bejaarde rekenmeester
grond, lug, vuur en water
en wat hy nie verstaan nie
pos hy na die Groot Boek
waar sy naam opgeteken staan
saam met die Lam
as hulle eendag saam met die wilde diere
van Satara na die drinkplek gaan.