Nieu-Bethesda
Foto: René Bohnen
Mis Helen deur René Bohnen
vraagstukkend
reis ek noord deur dorre vlaktes,
oor ʼn dam vol stof,
dan oos
by wabome en kafees verby,
Kamdeboo – oplaas deur Rubidgekloof
na ʼn populiergeel peerboom vallei,
vlammend geil van herfs.
doodloopstraat: stil sementtuin
karoo-son belig hoe-hoe raad in frases draad,
messel die mekka vas
in flesse poeierglas:
as jy op ʼn landkaart soek
sal antwoorde bly ontwyk
want hier lê stilte
maar Oos is waar die uile kyk
Foto: René Bohnen, Hemelmeermin
Nieu-Bethesda deur Mellet Moll
Sy ken die uile elkeen by die naam:
die skildwagters wat oor die voortuin waak
vanaf 'n uitkyktoring by die poort
en heilig na die oosteson verlang;
die sand-askete van die skynmoskee
wat waghou oor die Ouman in die stoet
en met die Sufi's by die koepel praat;
asof die afbeeldings die grafstene
van sieners uit die Rubaiyat kon wees
as hulle wysoog oor die aarde kyk.
Sy is 'n digter van die kalksteenland:
die randfiguur wat beelde uit die leem
van 'n ontdane ander wêreld bring;
wat fyngemaalde glas oor Marrakesh
se desolate sterretempels strooi
as Koos Malgas die grendelslotte sluit;
wat in haar Marokkaanse tafereel
na wesens uit 'n oerbestemming soek
en onderweg na Mekka vasgevang
soos soutpilare in die landskap staan
terwyl 'n duduk in die nadag treur.

Dis my wêreld deur Jeanette Nel le Roux
Ter ere van Helen Martins, die Uilvrou van Nieu-Bethesda
Waar gewelfde blou hemel
en onsimpatieke aarde ontmoet,
het crazy gedagtes onbeteueld gewemel –
slegs engele kon haar in bodemlose nagte behoed.
Dormante, onaangename herinneringe ontwaak
– van troos slegs te vinde by 'n siek Moeder,
wyl ‘n Vader se roede gesel; seermaak –
triomfeer die erfenis van ‘n liefdevolle hoeder.
'n Vader se guns en liefde is haar wreed geweier –
die adder se donker skadu het net sy geken.
Sy onregverdige septer het haar laat steier;
hartseer memories, opgesluit in 'n pantheon – die leeu se den,
In 'n wêreld, te nagdonker om te kan sien
– aangehits deur vrees en haat –
kon sy nie opreg die Here dien
Trou 'n ateïs – haar reputasie te skaad.
‘n Leeftyd lank kon sy nie die legkaart maak pas –
skinderstories verag oor haar sondige affair.
'n Honeymoonkamer, twee beddens – dié skei sy met 'n kas:
“Love is always kept apart”, vertel sy met flair.
Een nag se goudgeel maanskyn bring haar helderheid,
ontvlugting van haar alledaagse grys bestaan –
vergete die smeltkroes van eensaamheid en selfverwyt
oor verworpe moederskap – in ‘n sin van waan.
Tweegesig-mense, wat sy kunstig hervorm en giet,
word tweekop-uile wat haar heiligdom se ingang bewaak.
Niemand sal haar ooit weer hiet en gebied
of haar belet, as sy haar noord wel oos wil maak.
Is gekraakte en gekleurde glasversiering
sprekend van 'n verontregte liefdelose vrou?
Of was dit onbewustelik haar vryheidsviering
wat haar uile, kamele en songesigte laat bou?
Om voluit te kon leef was haar wesentlike probleem:
spieëls by dosyne, tog wou sy haarself nie daarin sien.
Angs om lewend dood te wees, laat haar haar eie lewe neem.
Aardse naaktheid hoonlag – ‘n karige bed – die graf wat sy nie verdien.