TEEBUS en KOFFIEBUS
Foto: Joe Vorster, "Oudeplaats", Steynsburg, 9.2.1918
Teebus en Koffiebus deur Chris Venter
'n Landskap, olieverf op glas deur 'n groottante geskilder: die plaas en die twee hoë koppe: Teebuskop en Tafelkop. Amper veertig jaar het dié skildery in Ouplaas se sitkamer gehang. En toe verkoop my oupa die plaas. Ek was twaalf.
Berge behoort aan almal. So het Boerneef sy twee tafelberge met ons gedeel en vertel Chris Torr onlangs vir Hanlie Retief van Teebus en Koffiebus, wat hul plekke vol staan in die nuwe fliek, Stuur groete aan Mannetjies Roux. In Chris se gelyknamige liedjie sing Laurika mos oor haar oom en hoe sy, skaars dertien, hom vra oor die droogte en hy net sê ja-nee en, met "sy oë grou", liewer weer praat oor Mannetjies se drie. En teen die lied se einde sing sy weer oor haar oom se oë, "nou albei toe", en oor sy brief en sy oulaas-groete.
Die koppe is seker so tien kilometer van Ouplaas af, maar soos die kraai vlieg dalk nader. Koffiebus en Teebus ja, maar ek het hulle as Tafelkop en Teebuskop geken, die een se kruin 'n tafel, die ander 'n tepeltjie. My pa het gespog met 'n verkyker waardeur hy jongtyd soms die besembosse teen Tafelkop se hang heen en weer kon sien swaai in die wind. Later sou die verkyker nie meer help nie.
Desembervakansies het ons die son tussen hulle sien ondergaan, maar in die winter kies hy kortpad om 'n hele ent regs van Tafelkop te gaan sak. In droogtetye kon die sonsondergange 'n beklemmende skoonheid hê, dieprooi gekleur deur die baie stof in die lug.
Wanneer jy na die skildery kyk, na die fokuspunt van die wit plaashuis tussen die bome en na die twee koppe wat waghou, onthou jy hulle wie se oë lankal toe is en vergeet jy van alles wat verander het: die groot bome om die huis en die vrugtebome en lanings in die tuin daaragter wat oor die jare steeds minder geword het. Want die plaas was nooit weer iemand se woonplaas nie. (Vandag behoort dit aan 'n sindikaat.)
Van die plaashek af, wat in later jare altyd gesluit was, kan jy nie die voetpaadjies sien nie. Een loop naby die houtmaakplek en die slagkamer verby na die gronddam en die hoë populiere. 'n Ent verder is twee lae koppies waarop groot rotsblokke teen mekaar leun. Die holtes tussen die rotsblokke is grotte as jy net tien is en skraal genoeg om daar in te kruip, skaars bewus van die droë dassiemis onder jou handpalms.
'n Ander paadjie slinger tussen soetdorings en bloubosse deur spruit se kant toe. Stap in die breë spruit op. Om elke wye draai ontvou landskappe in die kleine – rotsblokke, sandbanke, klipplate, speelplekke, droomplekke. Bo by die fontein is 'n keerwal wat water afkeer vir einste die gronddam by die populiere. Selfs in die droogte voed die oorloopwater 'n stroompie op die spruitbodem, meestal enkeldiep behalwe in die kuile. Hier slyp jy pylpunte van klip en versteek hulle in onderwater-klipskeure in 'n helder poel.
As ek vandag in die spruit sou kon stap, sou dit weer kaalvoet wees oor die klam spoelgruis waar 'n by my eenkeer onder die voet gesteek het. As ek op die stoep sou staan met my verkyker, sou ek die besembosse miskien sien wieg in die wind.
Op sonskyndae is die twee hoë koppe diepblou en dáár. Maar wanneer die wolke begin saampak, skuif skakerings van grys verlange oor die landskap totdat alles wegraak agter 'n reëngordyn.
Om te leen by Boerneef:
van al ons land se koppe
is daar vir my maar twee,
dis ou Teebuskop van Ouplaas
en ou Tafelkop daarnaas.